Die 1882 Oorgang van Venus:
Observasies vanaf Wellington, Suid Afrika.

Download MNASSA paper (2.2 MByte PDF-file) on the American expedition to Wellington
Download MNASSA paper (900 kByte PDF-file)on the British expeditions to South Africa
Download MNASSA paper (2.4 MByte PDF-file) follow-up on above papers and 2004 observations
This page in English


Mary Lyon
Teen die laat negentiende eeu identifiseer dr. Andrew Murray, die welbekende NG predikant op Wellington, die nood vir die hoër opleiding van dogters in Suid Afrika en begin rondkyk vir 'n model om dié ideaal op te skoei. Tydens 'n vakansie in hulle strandhuisie "Patmos" in Kalkbaai lees hy Hitchcock se boek Memoir of Mary Lyon en die baanbrekerswerk wat sy by die Mount Holyoke Seminarie in Massachusetts, Amerika in verband met Christelike Hoër onderwys vir dames gedoen het. Hierdie inrigting het nie alleen akademiese opleiding gebied het nie, "maar het 'n eg sedelike en godsdienstige karakter gehad wat ook klem gelê het op huishoudelike werk."

Kort hierna rig hy 'n skrywe aan hulle hoof waarin hy navraag doen omtrent 'n onderwyser vir 'n soortgelyke skool op Wellington ('n afskrif van hierdie brief word vandag uitgestal in die Wellington museum). Spoedig ontvang hy 'n antwoord waarin hulle die dienste van twee leerkragte aanbied en op 19 Januarie 1874 open die "Huguenot Seminary for Girls" hulle deure onder leiding van mej. (later dr.) Abbie Park Ferguson en mej. (later dr.) Anna E. Bliss, afgestudeerdes van Mount Holyoke, in die ou "White House", op die terrein van die huidige Huis Wouter Malan.

Mej. Ferguson was 'n ywerige amateur sterrekundige en reeds vanaf die begin het sy sterrekunde as vak by die skool aangebied. Dit was ook glad nie 'n onbekende gesig vir die klas om deur die destydse Koninklike Sterrekundige aan die Kaap de Goede Hoop en persoonlike vriend van mej. Ferguson, dr. (later Sir) David Gill toegespreek te word nie. In 1881 word die Williston Sterrewag by Mount Holyoke gebou en word hulle oorspronklike teleskoop, ('n 6" Fitz, soos hierdie een (18k)) wat in 1853 daar geïnstalleer is, aan die "Suid Afrikaanse dogter van Mt. Holyoke" geskenk. Onder toesig van dr. Gill word hierdie teleskoop gedurende 1882 in 'n sterrewag op die skoolterrein ingerig.

Twee van die drie Seminarie dames (fotos ongeveer 1880) wat die oorgang waargeneem het deur hul eie teleskoop wat naas dié van die Amerikaanse ekspedisie geleë was.

(Builders of Huguenot - 1927)


Abbie Park Ferguson

Mary Elizabeth Cummings
(Later mev. Gamble)

Die jaar 1882 was in twee opsigte 'n besonderse jaar in astronomiese terme. Eerstens het die "Groot Komeet van 1882" so helder geword dat dit selfs in die dag sigbaar was. Deur dit te fotografeer besef Gill die potensiaal van fotografie in sterrekundige en begin dit 'n heel nuwe era van sterrekundige observasies. Tweedens was dit die laaste geleentheid voor die jare 2004 & 2012 wanneer die oorgang van die planeet Venus oor die skyf van die Son waargeneem sou kon word.


Aangesien die vlakke van die bane van die Aarde en Venus met 3¼° verskil, kan oorgange slegs plaasvind wanneer die twee planete hulle gelyktydig aan dieselfde kant van die Son en in die omgewing waar die bane kruis (stippellyn) bevind.
(Sky & Telescope Aug 1991)

Die pad van Venus oor die
gesig van die Son tydens die
vermelde ses oorgange.
(Sky & Telescope Des.1982)

Slegs die twee binne-planete, Mercurius en Venus kan oorgange oor die Son vertoon wanneer hulle tussen die Aarde en die Son inskuif. In kontras met Mercurius wat 13 tot 14 oorgange per eeu beleef, is 'n oorgang van Venus baie raar. Dit kom tans voor in pare, 8 jaar uitmekaar, wat dan eers weer oor meer as 'n eeu herhaal. Vorige oorgange was in 1761 & 1769 en 1874 & 1882 - dit was met die 1769 oorgang toe Kaptein Cook sterrekundige waarnemers aan boord gehad het en hulle dit vanaf Tahiti waargeneem het. Kepler kon reeds teen 1609 d.m.v. sy wette 'n baie akkurate skaalmodel van die Sonnestelsel bepaal, maar eers wanneer enige een van die afstande in die Sonnestelsel presies bepaal is, kon al die ander afstande net so akkuraat afgelei word. Een van hierdie direkte metodes om die afstand tussen die Aarde en die Son noukeurig te meet was deur gelyktydig die oorgang van Venus vanaf verskillende plekke op die aardbol waar te neem.
(Hier is 'n baie goeie verduideliking)


'n Jong prof. Newcomb
(Sky & Telescope Sept.1988)

Mej. Ferguson se sterrewag was ook net mooi ingerig toe die Amerikaanse ekspedisie onder leiding van prof. Simon Newcomb in Kaapstad aankom om die oorgang vanaf Suid Afrika waar te neem. Gill het oorspronklik aanbeveel dat hulle hulle observasies vanaf Beaufort-Wes doen, maar toe Newcomb hoor van die Amerikaanse verbintenis met die Hugenote Seminarie, het hy dadelik met die trustees in verbinding getree en met hulle toestemming het 'n observasiepos, bestaande uit vier geboutjies, spoedig in hulle tuin verrys.

Prof. Newcomb het die skool aktief betrek deur onder andere mej. Ferguson se sterrekunde klas te laat oefen op 'n apparaat wat 'n kunsmatige oorgang naboots. Hy het hulle selfs so goed toegerus dat hulle hulle eie volwaardige observasies kon doen toe die groot dag op 6 Desember 1882 aanbreek - soveel so dat die name van mejj. ME Cummings, AP Ferguson en JN Brown vandag opgeteken staan tussen dié van die professionele sterrekundiges waar hulle elkeen met 'n observasie gekrediteer word. Newcomb was klaarblyklik so 'n goeie leermeester dat daar na die gebeurtenis ontdek is dat die amateurs in sekere opsigte meer akkurate waarnemings as die beroepsmense bemeester het. Prof. Newcomb se reaksie hierop was dat dit deels aan geluk en deels aan ywer toegeskryf kon word. Die dames het dit egter as 'n pluimpie vir die vermoëns van die vroulike geslag beskou.

Die gebeure kan ten beste beskryf word deur een van die waarnemers self. In 'n brief aan haar klasmaats, gedateer 22 Desember 1882, skryf Mary Elizabeth Cummings (klas van 1876 (Holyoke) en onderwyseres aan Hugenote van 1877 tot 1887) as volg:

"I must tell you of our telescope before I close. Some of you perhaps know that it is the one through which we had a few peeps when pupils of Mt. Holyoke. When it was no longer needed there, Mr. Williston kindly presented it to the So. African daughter of Mt. Holyoke. An observatory was erected for it in our garden, and the telescope was mounted under the direction of dr. Gill, the Astronomer Royal, from Cape Town. It was scarcely in order when the "Transit of Venus Expedition" from the United States, arrived in Cape Town, and soon after decided upon Wellington as the best astronomical station for their purpose. Our garden was selected as the best site, all things considered, and four buildings were erected. Prof. Newcomb, the Chief of the Expedition, instructed the pupils in Miss Ferguson's astronomy class and several of us teachers, in the art of reading time quickly on the chronometer, and several of us were invited to share the practice of the astronomers, in observing an artificial transit of Venus, by means of an apparatus invented by one of the party. The actual transit took place the day before our anniversary and in the midst of the examinations and hurry of anniversary week, and to several of us teachers was the most important event, as it had been arranged that we should observe it through our own telescope, which was in excellent condition and gave a splendid view of all that could be seen."

'n Skets uit prof. Newcomb se Popular Astronomy (1878)
toon hoe die apparaat wat 'n kunsmatige oorgang van
Venus kon naboots, gelyk het. Die swart plaatmetaal skyf
(Venus), een voet in deursnee, het agter die wit driehoekige
opening (die Son) verskyn en verdwyn, getrek deur 'n
uurwerk via die trollie. Die hele apparaat is op 'n gebou,
1 km weg geplaas en deur 'n teleskoop waargeneem.

Prof. Newcomb sou hiervandaan nog diep spore in die sterrekundige wêreld trap en hy word uiteindelik die mees geëerde Amerikaanse sterrekundige van die 19de eeu sodat daar van 'n skip tot 'n krater op die Maan en vermoedelik ook op Mars na hom vernoem is. In vergelyking met die 1874 oorgang, wat in werklikheid veel swakker waargeneem is, is daar maar bitter min van die 1882 observasies gepubliseer. Alhoewel prof. Newcomb verantwoordelik was vir die verwerking van die inligting was dit uiters frustrerend aangesien dit telkens gebeur het dat sy fondse hiervoor hertoegewys word. Toe hy in 1903, meer as twintig jaar later, sy outobiografie The Reminiscences of an Astronomer uitgee en hy met heimwee terugdink aan die Wellington ekspedisie skryf hy as volg:

"On our departure we left two iron pillars, on which our apparatus for photographing the Sun was mounted, firmly imbedded in the ground, as we had used them. Whether they will remain there until the transit of 2004, I do not know, but cannot help entertaining a sentimental wish that, when the time of that transit arrives, the phenomenon will be observed from the same station, and the pillars be found in such a condition that they can again be used."


Hierdie skets uit Newcomb se Popular Astronomy (1878)
toon die werking van die "foto-heliograaf" soos
gebruik deur die Amerikaanse ekspedisies.

Vanuit die eertydse Hugenote Seminarie sou daar later die Hugenote Meisieskool ontstaan wat weer op sy beurt in die Hugenote Hoërskool sou oorgaan wat vandag steeds op die dorp voortbestaan. Die oorspronklike Hugenote Universiteits Kollege het vandag gegroei tot twee volwaardige opleidingsinstansies waar onderwysers, maatskaplike werkers en dienswerkers opgelei word onder die vaandels van die Kaapse Technikon, Wellington Kampus (KTWK) en die Hugenote Kollege (HK) (24k.jpg) onderskeidelik. Die name van hierdie vroeë baanbrekers leef vandag steeds voort in die geboue op die kampusse van hierdie twee inrigtings. Huis Murray (34k.jpg) en Huis Bliss (17k.jpg) dien tans as koshuise vir KTWK terwyl Huis Cummings (28k.jpg) studente van HK huisves. Mary Lyon se naam is verewig in 'n saal (33k.jpg) wat na haar vernoem is. Besoekers kan tuisgaan in die Holyoke gastehuis (24k.jpg) terwyl Ferguson Hall (17k.jpg) vandag die kantore van Bybel Media huisves.


So het die twee pilare op Touwsrivier in Februarie 1936
gelyk voordat dit as Nasionale Monument verklaar is.
(South African Journal of Science - Maart 1937)
Meer onlangse foto hier (22k.jpg)

Nooit in prof. Newcomb se wildste drome sou hy ooit kon dink dat die afstande in die sonnestelsel later tot sentimeters bepaal sou kon word deur onder andere radar van Venus te bons en laserlig van 'n spieël wat deur ruimtevaarders op die Maan geplaas is nie! Dit beteken dus dat sy observasiepos in 2004 van nog minder akademiese belang sal wees aangesien hierdie oorgang feitlik geen wetenskaplike waarde gaan hê nie. Afgesien hiervan, kan prof. Newcomb se droom steeds nie ten volle vervul word nie aangesien hierdie yster pilare intussen verdwyn het.

Dieselfde observasies is ook vanaf Kaapstad, Durban en Aberdeen-weg onder leiding van dr. Gill gedoen terwyl 'n Britse ekspedisie Montagu-weg (Touwsrivier vandag) as pos vir hulle observasies gebruik het. H.E. Wood van die eertydse Unie Sterrewag in Johannesburg skryf in die Maart 1937 uitgawe van die South African Journal of Science 'n artikel waar hy pleit vir die bewaring van hierdie belangrike historiese landmerke. In Touwsrivier was twee beton pilare waarop die instrumente gemonteer was, met 'n handgeskrewe inskripsie vandie ekspedisielede se name, steeds teenwoordig in die binneplaas van die destydse Douglas Hotel. Onder Wood se aandrang en met die toestemming van die hotel eienaar, die legendariese mnr. James D. Logan van Matjiesfontein word hierdie oorblyfsels gedurende 1938 as nasionale gedenkwaardigheid verklaar. In dieselfde artikel verwys Wood ook na bogenoemde aanhaling van Newcomb en hy skryf verder:

"Unfortunately the iron pillars left behind by Newcomb have not remained undesturbed. Their existance has been forgotten and the piers have dissapeared. Upon enquiries being made in April 1936, it was found that one of the garden boys remembered the position where one of the pillars had been and, on excavating, a foundation was found. At this spot an iron post has been erected to mark the site at which Newcomb's observations were made."

Ongelukkig was daar nie genoeg tasbare oorblyfsels by die Wellington posisie oor om ook as monument verklaar te kon word nie en hierdie ysterpaal het intussen ook soek geraak, vermoedelik omdat die doel vir die oprigting daarvan nooit behoorlik daarop aangebring is nie.


Die Suidelike pilaar het die lens (links) en die onversilwerde
heliostaat spieël wat deur 'n klokwerk (regs) aangedryf is, bevat.
(Sky & Telescope Des. 1974)

Deur gebruik te maak van twee United States Naval Observatory publikasies, Instructions for Observing the Transit of Venus, December 6, 1882 en List of Articles Furnished to the United States Transit of Venus Parties in December 1882", kon ek 'n presiese skaaltekening saamstel van die uitleg van prof. Newcomb se teleskoop en observasiepos op Wellington (sien skets onder). Die teleskoop was in effek 'n statiese, horisontaal gemonteerde foto-heliograaf (fotografiese son-teleskoop) van 40 voet (12,1m) fokuslengte wat d.m.v. 'n klokgedrewe onversilwerde heliostaat spieël die sonlig daarin weerkaats het. Die twee pilare waarna verwys word was albei hol gietyster pype, 8 voet (2,4m) lank waarvan die onderste 4 voet (1,2m) onder die grond, verkieslik in beton geset is. Die pilare was op 'n presiese noord-suid lyn, 40 voet (12,1m) uitmekaar geplant. Die deursnee van die noordelike pilaar was 12" (305mm) teenoor die 13¾" (350mm) van die suidelike paal. Nog 14 voet (4,27m) verder suid van die suidelike pilaar, presies in lyn met die twee ysterpilare, was nog 'n pier met 'n beton fondasie van ongeveer 3 voet (1m) vierkant en 3 tot 4 voet (1-1¼m) diep waarop die Transit Instrument (8k.jpg) gestaan het. Hierdie instrument (12k.jpg) was gebruik om die noord-suid lyn akkuraat volgens die sterre te bepaal en was daarom ook presies op die optiese as van die foto-heliograaf geplaas. Bo-oor hierdie pier was die "Transit House" hut gebou waarvan die dak en mure in 'n noord-suid spleet kon oopmaak om toegang tot die naghemel vir hierdie teleskoop, wat slegs N-S beweging gehad het, te verleen. Rondom die fotografiese (noordelike) pilaar (11k.jpg) was die fotografiese hut gebou waar die fotografiese glas-plate by die brandpunt van die heliograaf lens belig is en dan in dieselfde hut, wat ook as donkerkamer gedien het, ontwikkel is. Die dikker suidelike pilaar het die heliograaf lens asook die uurwerk-aangedrewe heliostaat spieël bevat maar is nie ook in 'n hut gehuisves nie. Die korrekte fokus-stelling was bepaal d.m.v. 'n omslagtige stelsel waar die temperatuur van die maatstok asook die afstande vanaf sy twee punte na die lens en fotografiese plaat met 'n spesiale mikrometer gemeet is.


'n Skaaltekening van die opset van 'n tipiese suidelike stasie van 'n Amerikaanse observasiepos in 1882.
Vergelyk met die 1874 Nagasaki-pos onder.

Behalwe vir die fotografiese waarnemings was elke Amerikaanse stasie ook toegerus met 'n gewone teleskoop ('n 5" Alvan Clark ekwatoriaal-gemonteerde refraktor (29k.jpg)) waarmee "kontak observasies" gedoen is. Hierdie is die enigste tipe observasies wat deur die Britse ekspedisies gedoen is en vermoedelik ook deur mejj. Cummings, Ferguson en Brown. Die doel hier was om die presiese oomblik te bepaal wanneer Venus en die Son se binne- en buiterante mekaar "raak". Sogenaamde eerste- en tweede kontak vind dan plaas wanneer Venus voor die Son inskuif en later weer derde- en vierde kontak wanneer dit die Son verlaat. (Slegs eerste- en tweede kontak was in 1882 vanaf Suid Afrika sigbaar - die oorgang was steeds aan die gang met sonsondergang). Dit pas dan ook mooi aan met Mary Cummings se vermelding in haar brief aan haar klasmaats hoe prof. Newcomb hulle afgerig het om die chronometer vinnig te kan lees tydens hulle oefeninge op die kunsmatige oorgangsapparaat. 'n Derde geboutjie met 'n agkantige basis en 'n dak in die vorm van 'n vierkantige piramiede wat in die rondte kon draai het hierdie teleskoop gehuisves terwyl die vierde hut as stoorkamer vir hulle voorrade gedien het.


Hierdie foto van die 1874 Nagasaki observasiepos is tipies van Newcomb se opstelling in die Seminarie tuin in 1882. Voor, van links na regs is die fotografiese hut, meetstok, lens en heliostaat, uurwerk, transit hut en stoorkamer. Agter staan die agkantige teleskoophut en n klein teleskoop. (Sky & Telescope Des. 1974)

Mej. Ferguson se teleskoop was in 'n rondawel-tipe geboutjie gehuisves in die tuin, aan die noordekant (agterkant) van Huis Murray. Tydens die 60-jarige herdenking van die Seminarie in 1933 skryf mev. Gamble (voorheen mej. M.E Cummings, wat nie verwar moet word met haar suster, Anna
Die Wellington Sterrewag, 1932
'n Naby-foto van die Wellington sterrewag, gedateer 1932.
(Foto: Wellington Museum)
wat later prinsipaal was nie) 'n paar herinneringe neer van haar tien jaar (1877-1887) aan die skool en verwys onder andere weer na die oorgangsobservasies wat ongetwyfeld 'n hoogtepunt vir haar moes gewees het. Sy noem ook dat behalwe vir die aanvanklike oorgangsobservasies, die teleskoop ongelukkig maar min gebruik was. Dit was moontlik deels te wyte aan die feit dat die vak Sterrekunde reeds teen ongeveer 1890 afgeskaf moes word toe die matrikulasie klasse ingebring is. Wanneer mej. Ferguson ook jare later terugkyk op die eerste 15 jaar, skryf sy in The Builders of Huguenot as volg :

"How did we enjoy the broad outlook in Literature, the nights with the telescope under the stars, the excursions into the realms of Science and the deep problems of Philosophy."

Mev. Gamble se skrywe impliseer dat die sterrewag in 1933 steeds moes bestaan het. As 'n mens hierdie inligting vergelyk met die lugfoto van Wellington hier onder, geneem ongeveer 1937/38, is daar 'n klein ronde geboutjie sigbaar wat heel waarskynlik die sterrewag kon gewees het. Hierdie posisie kon later bevestig word met die ontdekking van dié 1935 poskaart.


In hierdie deel van n lugfoto van ongeveer 1937 is die moontlike paal deur Wood geplant in 1936 links-onder en die Ferguson sterrewag regs-onder duidelik sigbaar. Die groot gebou links-bo is Goodnow saal en die gebou reg in die middel, Huis Murray met regs daarvan, "White House". (Foto: Wellington Museum) Volledige foto hier

As 'n mens in ag neem dat hierdie lugfoto slegs 'n jaar of twee na Wood se besoek geneem is, is wat lyk na 'n losstaande paal op die foto, heel waarskynlik die ysterpaal wat deur hom geplant is.

Na aanleiding van 'n navraag deur 'n lid van die publiek i.v.m. die Touwsrivier monument, antwoord die eertydse direkteur van die Raad op Nasionale Gedenkwaardighede, mnr. B.D. Malan, op 2 Julie 1963 as volg :

"An American expedition under Prof Simon Newcomb erected instruments for the same purpose on the site of the Huguenot Seminary, Wellington, at a spot which is nowadays indicated by an iron standard placed there in 1936."


'n Afdruk van een van die sowat 1700 fotografiese
glas plate wat wêreldwyd in 1882 geneem is.
Venus is duidelik sigbaar, tesame met die beeld
van 'n kruispatroon wat op glas uitgekrap is asook
'n dun silwerdraad, vertikaal in die middel, wat
direk voor die fotografiese plaat gemonteer was.
Die kleiner kolletjies is veroorsaak deur
defekte op die fotografiese glasplate.
(JHA XXIX, 1998)

Hieruit kan 'n mens aflei dat die paal in 1963 steeds bestaan het, maar dit kan dalk ook wees dat mnr. Malan slegs die Raad se Touwsrivier lêer geraadpleeg het wat ook 'n afskrif van Wood se artikel bevat. Sy verwysing na die paal as 'n "iron standard" is egter baie interessant aangesien dit dui op 'n groterige losstaande paal, 'n benaming wat onder andere ook destyds vir ornamentele (gas) lamppale gebruik was, in vergelyking met Wood se "iron post" wat 'n mens eerder aan 'n (kleiner) hoekpaal vir 'n draadheinig laat dink. Dit vergelyk weereens goed met die paal wat op die foto sigbaar is. Die relatiewe posisies van die twee stem ook goed ooreen met die volgende uit The Builders of Huguenot :

"Miss Ferguson and Miss Cummings arranged to observe, in an amateur way, from their own observatory which stood alongside the more perfect instruments of the professional observers."

Een aspek van Wood se verslag wat vreemd voorkom is hoekom hy net melding maak van een pilaar. Sodra die posisie van een pilaar bekend is, is die posisie van die ander een outomaties bekend - dit moet òf 40 voet reg noord òf 40 voet reg suid daarvan geleë wees. Indien Wood nog die dikte van die ysterpaal kon vasstel uit die oorblyfsels, kon dit onmiddelik as die noorder- of suider pilaar identifiseer word wat dan die rigting na die ander een bepaal het. Dit kon dus wees dat Wood nie genoegsame kennis van Newcomb se instrument gehad het nie of dat die ander pilaar toe reeds verwyder was. Dit is ook vreemd dat Wood nooit na mej. Ferguson se sterrewag verwys nie. Hy was dus heel waarskynlik nie bewus daarvan dat dit ook gebruik was om die oorgang mee waar te neem nie.

Deur noukeurige mates van die paal op die lugfoto te neem en dit op die terrein agter Huis Murray toe te pas, kon daar vasgestel word dat hierdie posisie uitkom op 'n plek net kort van die huidige tuin, in die middel en reg aan die oostelike ent van 'n geteerde voetpad wat langs 'n ±1.5m hoë keermuur af loop. Hierdie muur ondersteun die tuingrond na uitgrawings vir die aanlê van tennisbane. (Vir die rekord, hierdie posisie is 40.03±0.3m oos en 47.35±2m noord van die mees noord-oostelike hoek van Huis Murray.) Metings met 'n metaalverklikker kon ook niks onteenseglik uitwys nie. My hoop is tans gevestig op aanwysings wat volgens die reeds vermelde dokument, Instructions for Observing the Transit of Venus, December 6, 1882, vereis het dat die waarnemers 'n kaart sowel as 'n skriftelike beskrywing van hul observasiepos moes saamstel en dit saam met hulle resultate moes insluit. Hierdie inligting is klaarblyklik vandag in die Nasionale Argief in Washington DC en ek is tans besig om 'n afskrif hiervan te probeer bekom.

1874 ekspedisielede by die USNO met prof. Newcomb en die intrumentasie en hutte
Deelnemers aan die 1974 ekspedisies kan hier gesien word waar hulle op die USNO terrein vergader is vir 'n oefenlopie voor die groot gebeurtenis. Heel voor (sittende) is prof. Newcomb terwyl van die hout hutte wat by die observasieposte gebruik was, in die agtergrond en heel regs sigbaar is. Die grootte van 'n pilaar (heel links) kan hier goed teenoor dié van 'n persoon vergelyk word.      (Journal of the History of Astronomy XXIX, 1998)

Die 2004 oorgang sal amper in sy geheel vanaf Wellington sigbaar wees (kaart en data hier). Wanneer die Son op 8 Junie 2004 oor Wellington opkom het die oorgang pas om 07H13 'n aanvang geneem en sal dit Venus tot om 13H26 neem om al die pad oor die gesig van die Son te beweeg. Met genoegsame optiese filtrering van die skadelike sonlig, sal 'n mens selfs sonder die hulp van 'n teleskoop die swart kolletjie van die planeet, gesilhoeëtteer teen die helderder Son kan waarneem. 'n Byna identiese "kleed-repetisie" het presies een jaar, een maand en een dag voor die tyd plaasgevind toe Mercurius tussen ons en die Son deurbeweeg het (kaart en data hier). Dit het toevallig ook om 07H13 'n aanvang geneem en geduur tot om 12H32 die middag van 7 Mei 2003. Aangesien Mercurius kleiner en verder as Venus is, was dit nie sonder optiese hulp sigbaar nie.

Indien ek uiteindelik die presiese ligging van prof. Newcomb se observasiepos kan bepaal sou ek graag sy wens wil vervul deur die 2004 Venus oorgang vanuit hierdie posisie waar te neem. Dit sou dan ook gepas wees om die plek meer permanent met 'n plaat aan te dui sodat dit nie weer verlore hoef te gaan nie. Wat natuurlik hierdie herverordening sal vervolmaak, sou wees om dit met die oorspronklike Ferguson teleskoop te kon doen - wat ek tans probeer opspoor.
6
Hierdie 6" Fitz refraktor uit die private versameling
van John Briggs (23k.jpg) is heelwaarskynlik identies
aan die verlore teleskoop wat eenmaal in die tuin van die
Hugenote Seminarie in Wellington, Suid Afrika gestaan het.
(Kliek hier vir 'n nabyskoot van die teleskoop.)
Die laaste verwysing daarna was in Oktober 1948 met 'n brief aan 'n mnr. De Villiers waarin toestemming verleen word om dit aan 'n Sterrekundige Vereniging op Worcester te verkoop. Ek het reeds die dogter van wat heelwaarskynlik hierdie mnr. Walton De Villiers was, opgespoor, by wie ek kon vasstel dat hy nooit persoonlik hierdie teleskoop besit het nie. Geen verdere inligting i.v.m. hierdie Worcester Sterrekundige Vereninging kon reeds gevind word nie. Mej. Ferguson se teleskoop was 'n 6" refraktor, gebou deur Henry Fitz, een van Amerika se vroegste meester teleskoopmakers.

Indien u, of iemand waarvan u bewus is, dalk oor enige verdere inligting i.v.m. enige van hierdie gebeure beskik, hoe gering dit ook al blyk te wees, moet u my asseblief kontak.

W.P. Koorts

http://www.saao.ac.za/~wpk/tov1882/oorgang.html

(Willie Koorts is op Touwsrivier gebore en bly daar tot aan die einde van sy Matriekjaar. Later ontmoet hy vir Rieks Wessels terwyl sy Maatskaplike Werk aan die Hugenote Kollege studeer en in Huis Cummings tuisgaan. Hulle is tans op Wellington woonagtig waar Rieks voorheen as Maatskaplike Werker by die Murray Kinderhuis werksaam was. Willie is in diens van die Suid Afrikaanse Astronomiese Observatorium in Kaapstad as Elektroniese Tegnikus en is ook 'n amateur sterrekundige.)

Bronne:

  1. Ferguson Geo. P. - The Builders of Huguenot - 1927
  2. Newcomb Simon - Popular Astronomy - 1878
  3. Newcomb Simon - Observations of the Transit of Venus, December 8-9, 1874 - 1880
  4. Newcomb Simon - The reminiscences of an Astronomer - 1903
  5. Warner Deborah J. - Alvan Clark & Sons - Artists in Optics - 2de Uitgawe, 135-137 & 167-170
  6. US Naval Observatory - Instructions for Observing the Transit of Venus, December 6, 1882
  7. US Naval Observatory - List of Articles furnished to the United States Transit of Venus party, stationed at ........, in December 1882
  8. Journal of the British Astronomical Association, 68, 98, 1958
  9. Journal of the History of Astronomy, XXIX (1998), 221
  10. South African Journal of Science - Vol.XXXIII - March, 1937
  11. The Observatory, a monthly review of Astronomy - No.70 - February 1, 1883
  12. The Sidereal Messenger - Vol.2 No.8 - November 1883
  13. Sky and Telescope - December 1974, 366
  14. Sky and Telescope - September 1988, 243
  15. Sky and Telescope - August 1991, 167
  16. Sky and Telescope - February 1995, 32
  17. Herriet E. Sessions, "The Study of Astronomy at Mount Holyoke Seminary" - Mount Holyoke Alumnae Quarterly, vol.3 (1919), pp.17-19 - Mount Holyoke College Archives and Special Collections
  18. Cummings Mary E. - Brief aan haar klasmaats - 22 Desember 1882 - Mount Holyoke College Archives and Special Collections
  19. Mrs Gamble (M.E.Cummings) - Reminiscences of Huguenot Seminary 1877-1887 - Wellington Museum
  20. Malan B.D. - Brief aan mnr. V. De Villiers, 2 Julie 1963 - Raad vir Nasionale Gedenkwaardighede, Touwsrivier lêer


Laaste opgedateer : 22 November 2003

Tuis
Tuisblad
Computerised Satellite Tracking
CoSaTrak
Werfkaart
Site Map
Teleskoop
Teleskoop
Fotos
Fotos
Sagteware
Sagteware
Skakels
Skakels
Besoekersboek
Besoekersboek